15/11/2024
NEGESTER TAFELTENNIS deur Willie van Heerden (Sportkoördineerder)
Die tafeltennisgroep het ‘n hegte band begin vorm met ‘n toenemend entoesiastiese klomp spelers wat nie kan wag vir Dinsdag- en Donderdagmiddae om aan die spel deel te neem nie.
Die spelpeil van al die spelers het die afgelope maande drasties verbeter en daar is gereeld kompeterende geleenthede om speelpatrone af te wissel.
Met die Kansa geleentheid wat op 5 Oktober 2024 plaasgevind het, was die saal nie die Donderdagmiddag beskikbaar nie, en die speelgeleentheid is na die Vrydagmiddag verskuif. ‘n Totaal van elf lede het opgedaag en het die spel terdeë geniet.
Onder leiding van die groep se koördineerder, Piet van Zyl, vind daar gereeld “trekkings” plaas om verskillende persone teen mekaar te laat speel.
Tans is daar van ons lede wat deur siekte of beserings gekniehalter word en ons hou hulle in ons gebede. Wanneer almal herstel het sal ons maklik 16 plus spelers wees.
Nuwe intrekkers is welkom om by die groep aan te sluit en ons verwelkom ook spelers wat dalk nog nooit of lanklaas gespeel het nie.
Ons het almal begin as nuwelinge in die spel.