11/11/2023
Geleen
OM 'n MAN TE WEES.
Om ’n vrou te laat huil deur jou woorde of dade maak jou nie ’n man nie. Om jou vrou te verneuk, maak jou nie ’n man nie. Om ’n vrou se hart te breek maak jou nie ’n man nie. Om jou hand vir ’n vrou te lig maak jou nie ’n man nie. Om ’n vrou af te breek maak jou nie ’n man nie. Dit maak jou ’n pateet, en jy verdien dan nie om ’n man genoem te word nie.
Wat maak jou dan ’n man?
Om ’n vrou te respekteer. Om haar vertroue, een van haar kosbaarste besittings, te wen en dit nooit te verbreek nie. Om haar te laat glimlag. Om na haar te luister, werklik te luister en haar nie te oordeel nie. Om tyd te maak vir die oomblikke wanneer sy jou nodig het. Om haar met woorde gerus te stel of haar net vas te hou. Om enigiets te doen, maak nie saak wat dit van jou verg nie, sodat sy nie seerkry nie.
Om haar by te staan teen die harde wêreld daarbuite. Om haar veilig te laat voel. Om haar geluk voor enigiets anders, selfs jou eie geluk, te plaas. Om haar te ondersteun, haar op te bou in alles wat sy doen. Om trots te wees op haar en alles wat sy doen. Om jammer te sê as jy verkeerd was. Om te besef hoe kosbaar sy is en haar só te behandel. Dít maak van jou ’n man.
Jy doen dit nie vir eer nie. Jy doen dit nie omdat vroue swak is nie – hulle is net so sterk soos mans. Jy doen dit omdat jy verstaan dat om ’n man te wees, beteken jy moet opstaan vir wat reg is en dat jy elke meisie of vrou, maak nie saak wie dit is nie, moet respekteer.
Jy doen dit omdat dit is hoe jy wil hê jou ma of suster behandel moet word. Jy doen dit omdat die wêreld nie nog vroue met ’n stukkende hart nodig het nie.
Die wêreld het meer mans nodig. Wees daarom een.
Krediet Lydia Pretorius