22/01/2024
Met groot opgewondenheid verwelkom ons Annia van Deventer (née Engelbrecht), wie haar praktiese gemeentejaar onder leiding van ds Hennie van der Linde gaan voltooi, sodat sy einde van hierdie jaar in die NHKA legitimeer kan word. Annia het 2019 teologie begin studeer by die Universiteit van Pretoria. Sy verwerf in 2022 haar BDIV-graad en einde 2023 haar MDIV-graad.
Sy is in Thabazimbi gebore op 31 Augustus 1997. Sy is ook gedoop en gekatkiseer in Vliegepoort gemeente o/l van ds Kalfie Loots en ds Hennie van der Linde.
Annia was hoofmeisie van Laerskool Thabazimbi in 2010 en het in 2015 gematrikuleer by Hoërskool Frikkie Meyer as deel van die SR. Daar ontmoet sy haar toekomstige man, ZW van Deventer en word hulle in die huwelik bevestig op 9 Mei 2021 deur ds Hennie van der Linde. Sy en ZW bly en boer op Dwaalboom saam met haar skoonfamilie.
Annia sê dat die Here 'n lang pad saam met haar gestap het om haar uiteindelik by teologie uit te bring. “Ek wou my lewe lank met mense werk en hulle help - dit was nog altyd my grootste passie.”
Sy is baie lief vir skilder, gholf en lees, maar haar grootste bederf is om 'n dag saam te boer op die plaas tussen die beeste. Tot op hede het sy ook al 5 hanskallers grootgemaak!
Haar grootste liefde is egter by die kinders van die Here - jonk en oud. “Ek hoop en bid dat die jongmense van vandag ook net soveel liefde en passie vir die werk van die Here kan hê.”
Haar gunsteling vers is daarom ook 1 Timoteus 4:12 "Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid."
Annia sê sy is dankbaar in oorvloed dat die Here haar, as sondaar, geroep het en gebruik om in die bediening werksaam te wees. “Solank as wat dit die Here se wil is sal ek hierdie roeping met oorgawe uitleef.”
Annia, die seën van die Here word jou toegebid met jou nuwe uitdagings en werkkring - die Hervormde Kerk Vliegepoort, Thabazimbi. Ons bid net die Here se rykste seën vir jou en ZW.